Twis oor urine in dagmoeder-saak
2010-08-03 19:37
Somerset-Wes - Die geldigheid van forensiese bewyse dat ’n dagmoeder die kinders in haar sorg susmiddels ingegee het, is een van die belangrikste aspekte wat Maandag in die slotbetoë van dié dagmoeder se verhoor ter sprake was.
Monica Helm staan in die streekhof hier tereg op agt aanklagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer. Die alternatiewe aanklag is kindermishandeling.
Sy is in Desember 2007 in hegtenis geneem omdat sy na bewering voorskrif-kalmeermiddels aan die kinders in haar sorg gegee het. Sy het die Kinderland-dagsorgsentrum in Heldervue, Somerset-Wes, bedryf.
Dr. Cornelius Viljoen, ’n biochemie-kenner, is Maandag in kruisverhoor geneem. Hy het voorheen getuig die analis van die departement van gesondheid wat die kinders se urine ontleed het, se kennis is nie op peil nie. Hy was krities oor verskeie tegniese aspekte van haar analise en verslag.
Hy het vroeër getuig dit is “toevallig en verkeerd” dat die betrokke middels in die kinders se urine-monsters gevind is.
Karien Theron, die staatsaanklaer, wou weet of dit ook toevallig en verkeerd is dat geen middels gevind is in die urine van ’n seuntjie wat dae vantevore uit die dagsorg gehaal is nie en dat daar wel middels gevind is in die mengsel wat die polisie by Helm se huis gekonfiskeer het. Viljoen kon nie hieroor kommentaar lewer nie.
Theron het in haar slotbetoog gesê “die blote teenwoordigheid” van die middels in die kinders se urine is van belang.
“Die feit is, ’n analis kry ’n resultaat, en dié resultaat kan nie deur dr. Viljoen betwyfel word nie,” het sy geargumenteer.
“Die prentjie van ’n perfekte dagmoeder (wat sy voorgehou het) is nie versoenbaar met iemand in wie se sorg kinders gevaarlike middels ingekry het nie.”
Keith Gess, Helm se prokureur, het geargumenteer die forensiese getuienis kan nie aanvaar word nie omdat daar vrae is oor die kalibrasie van die masjiene wat die analises gedoen het.
Hy het voorts gewys op weersprekings in die getuienis van die polisiebeamptes wat in die saak getuig het, asook in die getuienis van Angeline Carolus, Helm se voormalige huishulp, wat vir die staat getuig het.
Streeklanddros Marilyn Cannon sal op 15 Oktober uitspraak lewer.
- Die Burger