Tweede IVP-leier in sewe dae vermoor
2011-08-03 13:04
Durban – Die IVP se takvoorsitter in uMfolozi, KwaZulu-Natal is vermoor, het die party Woensdag gesê.
“Themba Cebekhulu, wat die IVP se takvoorsitter was, is doodgeskiet deur onbekende aanvallers wat sy huis Maandag om 20:30 binnegegaan het,” het Blessed Gwala, adjunk- provinsiale voorsitter van die Inkatha Vryheidsparty, in ‘n verklaring gesê.
Hy was saam met sy verloofde toe hy doodgeskiet is.
“Ons is diep geskok en baie hartseer oor die tragiese aanval op twee van ons leiers.”
Gwala het gesê sy party is bekommerd dat daar ‘n “aanhoudende neiging is om ons party se stabiliteit omver te gooi deur plaaslike leiers, wat die ruggraat van die party is, aan te val.”
Die moord volg sewe dae nadat ‘n ander IVP-leier in Ndwedwe, noord van Durban, vermoor is.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA