Twee witrenosters in Krugerpark doodgeskiet
2011-10-11 23:01
Johannesburg – Twee witrenosters is deur stropers doodgeskiet naby Albasiniweg in die Pretoriuskop-gebied in die Kruger Nasionale Park, het ‘n woordvoerder van die park Dinsdag gesê.
Die karkasse van ‘n renosterkoei en haar kalf is Dinsdagoggend ontdek, het William Mabasa, ‘n woordvoerder van die park, gesê. Dit is nie seker wanneer hulle geskiet is nie.
“Die twee diere is albei in die kop geskiet. Slegs een voorste horing van die koei is verwyder.
“Ons glo dat hierdie waarlik ‘n gemene daad is en vra enigiemand om na vore te kom en enige verdagte bewegings aan te meld,” het Mabasa gesê.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA