Twee wéér aangekla ná Winnie-voorval
2012-11-07 09:06
Johannesburg – Kriminele aanklagte is vir 'n derde keer aanhangig gemaak teen twee polisiebeamptes wat twee jaar gelede in 'n onderonsie met Winnie Madikizela-Mandela en haar lyfwagte betrokke was, het Beeld berig.
Ao. Jannie Odendaal en konst. Abel Twala het Dinsdag op aanklagte van intimidasie en die rig van 'n vuurwapen in die hof verskyn. Twala is ook aangekla van aanranding.
Die aanklagte volg ná ‘n voorval op 30 Desember 2010 toe die polisiebeamptes die bestuurder deur die verkeer sien vleg het. Die polisiebeamptes het haar afgetrek aangesien die motor teen 150 km/h gejaag het.
Jacob Olebile Monare, Madikizela-Mandela se lyfwag, het 'n aanklag ingedien en beweer dat die polisiebeamptes hulle met wapens gedreig en gevloek het.
Odendaal en Twala het toe teenaanklagte teen Madikizela-Mandela by die Brooklyn-polisiekantoor in Pretoria ingedien. Die aanklagte van aanranding en roekelose en nalatige bestuur teen haar bestuurder en Monare is later laat vaar.
Odendaal en Twala is hangende die uitkoms van 'n tugverhoor geskors.
Phindi Louw, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, het Dinsdag aan Beeld gesê die aanklagte teen die polisiemanne is weer ingestel.
Sy het gesê die korrekte prosedure is nie gevolg toe die aanklagte vir 'n tweede keer in Augustus teruggetrek is nie.
Die aanklagte is in September 2011 vir die eerste keer teruggetrek omdat die staatsaanklaer nie bereid was om hulle te vervolg nie.
Louw het aan die koerant gesê 'n hof kan voorstel dat die aanklagte teruggetrek word, maar dat die besluit deur die direkteur van openbare vervolgings gemaak moet word, en dit is nie gedoen nie.
Odendaal en Twala sal later vandeesmaand weer in die hof verskyn.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA