Twee wagte vas met onwettige wapens
2011-01-04 17:19
Johannesburg - Twee veiligheidswagte is Dinsdag op die M19 naby Blair Atholl-weg in Reservoir Hills, Durban in hegtenis geneem vir die onwettige besit van vuurwapens, het polisie in KwaZulu-Natal gesê.
Die polisie het 'n voertuig afgetrek wat aan 'n plaaslike sekerheidsmaatskappy behoort, wat gebruik is om die maatskappy se vuurwapens te vervoer, het kol. Jay Naicker, 'n polisiewoordvoerder, gesê.
"Die twee veiligheidswagte (41 en 52 jaar oud) in die voertuig het nie die nodige permitte gehad om die vuurwapens namens die maatskappy te vervoer nie, en is in hegtenis geneem vir die onwettige besit van vuurwapens.
"Die polisie het beslag gelê op 54 vuurwapens (27 pistole en 27 rewolwers) as deel van die ondersoek," het hy gesê.
In 'n opvolg-ondersoek is op 'n verdere 146 vuurwapens wat aan dieselfde maatskappy behoort, beslag gelê.
Die beskuldigdes sal eersdaags in die hof verskyn.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA