Twee verdagtes vas vir Vrystaat-moorde
2013-01-16 15:41
Johannesburg – Twee mense is Woensdag in hegtenis geneem in verband met die moord op ‘n bejaarde paartjie op die plaas Somerset naby Parys in die Vrystaat, het die Valke gesê.
“’n Man en ‘n vrou is Woensdagmiddag by Zambala langs Sasolburg in hegtenis geneem in verband met die moord,” het kapt. Paul Ramaloko gesê.
“Hulle was in besit van items wat aan die slagoffers behoort het, insluitend ‘n selfoon.”
Die man (30) en vrou (46) sal Vrydag in die Parys-landdroshof verskyn op aanklagte van moord en diefstal, het Ramaloko gesê.
Die polisie in die Vrystaat het Dinsdag gesê die paartjie se lyke is in ‘n snoepwinkel wat hulle uit ‘n motorhuis op die plaas bestuur het gevind.
“Die man se lyk is op die grond in die snoepwinkel gevind, met sy voete wat vasgebind was en ‘n materiaalsak oor sy kop,” het kol. Thandi Mbambo gesê.
Die vrou se lyk is in ‘n kisvrieskas gevind.
“Geen sigbare beserings kon op die lyke gevind word nie,” het Mbambo gesê.
Die slagoffers se lyke is na die staatslykhuis geneem waar nadoodse ondersoeke gedoen sal word om die oorsaak van hul dood te bepaal.
Die polisie sê ‘n huishulp het Dinsdag om 07:30 by die huis opgedaag en het gevind dat die huis geplunder was.
Die vrou het na die paartjie gesoek, maar kon hulle nie vind nie.
‘n Buurpersoon het ook opgedaag om te help soek, totdat hulle in die snoepwinkel gevind is.
Ramaloko sê die motief vir die moord is onbekend en ondersoeke duur voort.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA