Twee vas vir verkragting van 15-jarige op strand
2011-10-05 18:11
Johannesburg – Die polisie het Woensdag twee mans in hegtenis geneem in verband met die verkragting van ‘n 15-jarige meisie aan die noordelike kus van KwaZulu-Natal, het die polisie gesê.
Volgens lt. kol. Vincent Mdunge is die twee in KwaDukuza in hegtenis geneem.
Die twee mans en ‘n derde man, wat nog gesoek word, word verbind met ‘n aanval Dinsdag op twee tieners op ‘n strand naby die Zinkwazi-oord.
Volgens Mdunge het drie mans die meisie en haar 17-jarige kêrel aangeval terwyl die paartjie op die strand gestap het.
Hulle het die kêrel gesteek en die meisie by nabygeleë bosse ingesleep, waar sy herhaaldelik om die beurt deur al drie mans verkrag is.
Die drie mans het gevlug en die twee tieners, wat van Gauteng af kom, is in ‘n plaaslike hospitaal behandel.
“Ek het verneem hulle is baie erg getraumatiseer,” het Mdunge gesê.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA