Twee vas vir rooftog by casino
2011-09-27 15:55
Johannesburg – Nóg twee lede van ‘n kriminele sindikaat is in hegtenis geneem in verband met ‘n onlangse rooftog by die Morula Sun Casino in die Noordwes, het die Valke Dinsdag gesê.
Volgens McIntosh Polela, woordvoerder vir die Valke, is die mans Maandagaand in Tembisa en Kaalfontein in Gauteng vasgetrek.
Een van die mans het bykans R6 000 in sy besit gehad.
Die bende het talle skote binne die casino afgevuur toe hulle die instelling verlede week beroof het. Hulle was met AK-47’s gewapen.
Hulle het op veiligheidswagte geskiet, ‘n vuurwapen gesteel en met miljoene rande op die vlug geslaan.
Die eerste twee mans is verlede Dinsdag in hegtenis geneem en die ander twee is Sondag vasgetrek.
Polela sê ‘n kassier, wat ook in hegtenis geneem is, is met R38 000 betrap.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA