Twee vas vir kaping, moord
2012-02-06 22:25
Johannesburg – Twee mans is Maandag in Ongoye, Empangeni, in hegtenis geneem in verband met ‘n kaping en die moord op ‘n vrou, het die polisie in KwaZulu-Natal gesê.
Velephi Biyela (45), ‘n onderwyseres, was op pad na haar werk in Ntambanana toe sy deur twee mans gekaap is, het lt. kol. Vincent Mdunge gesê.
Die mans het haar uit haar Hyundai gedwing en een van hulle het haar in die bors geskiet voor hulle gevlug het.
‘n Verbyganger het Biyela gevind waar sy in die pad gelê het en het met haar na die Ngwelezane-hospitaal gehaas, het Mdunge gesê.
Sy is met haar aankoms by die hospitaal dood verklaar.
Volgens Mdunge sal die twee mans, onderskeidelik 21 en 25 jaar oud, aangekla word van moord, kaping en die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen.
Beslag is op die vuurwapen gelê en Biyela se voertuig is teruggevind.
Die mans sal binnekort in die Ngwelezane-landdroshof verskyn.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA