Twee vas vir aanval op baba, dagmoeder
2010-04-25 17:47
Johannesburg - Twee mense is oor die naweek in hegtenis geneem in verband met die wrede aanval op 'n eenjarige kind en haar oppasser in Randburg.
Kol. Eugene Opperman van die Suid-Afrikaanse Polisiediens kon egter nie sê of die polisie verwag om meer verdagtes in verband met die saak in hegtenis te neem nie.
"Die ondersoek duur voort. Ons sal sien wat daaruit voortspruit," het Opperman Sondag aan Sapa gesê.
Opperman het bevestig dat gesteelde goedere in besit van die verdagtes gevind is.
Hy kon egter nie bevestig of 'n skootrekenaar en modem wat, volgens berigte tydens die voorval gebuit is, teruggevind is nie.
Die verdagtes is Saterdagnag in Alexandra vasgetrek.
Die polisie kon geen verdere besonderhede verskaf nie.
Die twee verdagtes, onderskeidelik 23 en 25 jaar oud, sal na verwagting Maandag in die Johannesburgse Landdroshof verskyn.
Hulle staar aanklagte van poging tot moord en roof met verswaardende omstandighede in die gesig.
Die baba, Marizaan Kruger, en haar oppasser, Francina Sekhu, is Donderdag wreed aangeval in ‘n huis in Robin Hills, Johannesburg.
Kruger was teen Sondag in 'n ernstige maar bestendige toestand.
Sekhu word vir ernstige kopbeserings behandel.
Dit was ten tyde van die berig nie bekend of die baba al haar bewussyn herwin het nie.
- Sapa
Volg Nuus24 op Twitter.