Twee vas vir R4,7m se perlemoen
2011-05-15 21:39
Johannesburg - Twee Chinese burgers is Sondag in hegtenis geneem nadat hulle in besit van R4,7 miljoen se perlemoen betrap is in Parow, Kaapstad, het die Wes-Kaapse polisie gesê.
“Die waaksaamheid van ‘n besorgde gemeenskap het gelei tot die ontdekking van ‘n perlemoen-drogingsfasiliteit van miljoene rande en die inhegtenisneming van twee Chinese burgers,” het ao. November Filander gesê.
Die polisie het gereageer op ‘n wenk oor verdagte gedrag by ‘n huis in Panoramastraat, het hy gesê.
Die polisie het die huis omstreeks 09:30 deursoek en op 3,5 ton perlemoen en onder meer gasbranders, gasbottels en ‘n groot kookpot afgekom in die kamers.
Die perlemoen alleen is tot R4,7 miljoen werd.
Die twee Chinese burgers, onderskeidelik 19 en 30 jaar oud, sal Dinsdag in die landdroshof in Bellville verskyn.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA