Twee vas vir R350 000 se dwelms
2012-01-15 17:59
Johannesburg – 'n Vermeende dwelmhandelaar is in Mokopane in hegtenis geneem en beslag is op dwelms met ‘n geskatte straatwaarde van R350 000 gelê, het die polisie in Limpopo Sondag gesê.
Volgens lt. kol. Ronel Otto is ‘n 40-jarige Nigeriese man Donderdag by sy huis in Mokopane in hegtenis geneem.
“Die polisie het pakkies heroïen, kokaïen, kokaïen-'rocks', ecstasy-tablette en dagga gevind, met ‘n gesamentlike straatwaarde van R350 000. Beslag is ook op R142 613 in kontant gelê.”
Sy het gesê die Nigeriese man sal na verwagting Maandag in die Mokopane-landdroshof verskyn.
“Ondersoeke duur voort en die moontlikheid dat die verdagte dalk met nog voorvalle van dwelmverwante misdaad verbind kan word, word ondersoek.”
In ‘n afsonderlike voorval is ‘n Tanzaniese man by Beitbrug in hegtenis geneem vir die besit van dwelms, wat hy by die land in probeer smokkel het.
Polisiebeamptes aan diens by die grenspos het wat kokaïen blyk te wees in sy besit gevind. Dit was in plastiek toegedraai.
“Die verdagte is ook gesien waar hy iets ingesluk het. Hy is na die hospitaal geneem om x-strale te laat neem. Nog plastieksakkies was in sy maag sigbaar.
“Die verdagte is in die hospitaal opgeneem vir observasie onder polisiebewaking,” het Otto gesê.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA