Twee vas vir Marikana-moord
2012-10-13 09:01
Johannesburg – Twee mans wat verbind word met die "sluipmoord" op Daluvuyo Bongo, sekretaris van NUM, is Vrydag by Lonmin se platinum-myn in Marikana in hegtenis geneem, het die polisie gesê.
'n Vyf-en-dertigjarige man is by Rowland se skag nommer vier aangekeer terwyl 'n 37-jarige man by die Belt-skag in hegtenis geneem is, het brig. Thulani Ngubane gesê.
"Die mans is in hegtenis geneem terwyl hulle aan diens was. Hulle is albei inwoners van Wonderkop informele nedersetting," het hy gesê.
Bongo (41) is verlede Vrydagaand in sy kamer by Wonderkop-hostel doodgeskiet.
Die mans sal na verwagting Maandag in die Rustenburg-landdroshof verskyn op 'n aanklag van moord.
Ten tyde van Bongo se dood het Lesiba Seshoka, woordvoerder van NUM, gesê dit was 'n "sluipmoordaanval".
Hy het gesê vyf NUM-lede is tussen 10 en 16 Augustus, weens geweld wat met die staking by die Lonmin-myn in Marikana verbind word, dood.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA