Twee vas ná wrede moord op broer, suster
2013-01-30 10:40
Johannesburg – Twee mans is in hegtenis geneem in verband met 'n moord in 2008 op 'n broer en suster in Northcliff, het die polisie Woensdag gesê.
"Hulle verskyn môre [Donderdag] in die hof, hulle word verbind met die misdaad," het lt. kol. Lungelo Dlamini, polisiewoordvoerder, gesê.
Gary Smith en sy suster Karen Buchanan is op 14 Maart 2008 met lappe vasgebind en hul monde met kleefband toegeplak voor hulle aangerand is. Hul tande is uitgetrek, pyle is op hulle gegooi en Buchanan se klere is uitgetrek, berig The Star.
Buchanan is later in die kop geskiet en haar broer is in sy mond geskiet. 'n Huishulp het op hul lyke afgekom.
Dlamini het gesê hy kan weens die sensitiewe aard van die ondersoek nie die name van die twee verdagtes bekend maak voor hulle in die hof verskyn het nie.
Die mans, wat twee weke gelede in hegtenis geneem is, sal op aanklag van moord in die Johannesburg-landdroshof verskyn.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA