Twee vas ná moord op Kaapse klubeienaar
2012-02-11 12:40
Kaapstad – Twee mans is in hegtenis geneem in verband met die moord op Bruno Brönn (50), eienaar van die Bronx-nagklub in Groenpunt, het die polisie Saterdag gesê.
"Die 36-jarige (John) Frederick Coetzee is vanoggend (Saterdag) omstreeks 10:15 in Bo-Kaap in hegtenis geneem," het ao. November Filander, polisiewoordvoerder, in 'n verklaring gesê.
Filander het gesê die polisie het inligting van die publiek ontvang oor waar Coetzee hom bevind. Coetzee is by sy woonstel in Yususstraat op aanklag van moord in hegtenis geneem.
'n Tweede verdagte (29) van Soutrivier, wat ondervra is vir sy aandeel in die misdaad, is ook aangekla van moord, het Filander gesê.
Albei verdagtes verskyn Maandag in die Kaapstadse landdroshof. Die ondersoek duur voort.
Brönn (50) is Dinsdag dood in sy huis in Ocean View-rylaan aangetref.
Hy is herhaaldelik geslaan en vermoedelik verwurg. Hy was amper onherkenbaar vermink. Sy huishulp het op hom afgekom, het Die Burger berig.
Brönn se broer, Reinier Brönn, en Michael Xaso het Donderdag sy liggaam in die Soutrivier-lykhuis uitgeken.
Sy familie en vriende sukkel nog om tot verhaal te kom.
Die polisie kon nie die gesteelde artikels uit sy huis opspoor nie. Sy skootrekenaar en BMW word nog vermis. Sy selfoon is egter teruggevind.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Nuus24