Twee vas ná hulle glo ambulans kaap
2011-12-07 14:28
Johannesburg – Twee mense is Woensdag in Qwaggafontein in hegtenis geneem nadat 'n ambulans vroeër vandeesweek in Daveyton gekaap is, het die Ekurhuleni-nooddienste gesê.
William Ntladi, 'n woordvoerder, het gesê die ambulans is Maandag gekaap nadat die personeel 'n pasiënt en een van sy familielede opgelaai het.
Die ambulans het toe stilgehou by iemand wat in die straat gelê het.
'n Man het die voertuig genader en die bestuurder in die passasiersitplek forseer en met die ambulans weggery.
"Dit is nie duidelik of daar 'n wapen betrokke was of watter tipe wapen gebruik nie. Ons wag nog op meer inligting," het Ntladi gesê.
Die bestuurder en sy assistent is langs die pad in Daveyton afgelaai.
Die pasiënt en sy familielid, wat in die ambulans was, is in die Etwatwa-township afgelaai. 'n Ambulans van die Etwata-brandweerstasie het die pasiënt en sy familielid na 'n hospitaal in die gebied geneem.
Ntladi het gesê die ambulans is Woensdagoggend in Qwaggasfontein gevind. Twee mans wat in die voertuig was, is in hegtenis geneem.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA