Twee vas met kosbare gesteentes
2009-10-21 04:27
Johannesburg – Polisie in Ga-Rankuwa het twee mans in hegtenis geneem vir die besit van kosbare gesteentes en diamante.
Die mans is Dinsdag tydens ‘n veldtog gevang. Hulle is in twee verskillende huise waar goud en vals diamante gevind is, in hegtenis geneem.
Volgens kapt. Lucas Sithole het die polisie ook beslaggelê op vals goud en diamante, 28 rondtes ammunisie en dagga, wat in een van die huise was.
In die ander huis is ‘n emmer vol gesteentes, wat moontlik platinum is, gevind.
Die gesteentes sal geanaliseer word en daar word geskat die waarde by die honderde duisende rande beloop.
Die twee mans van 49 en 63 jaar oud sal Woensdag in die Ga-Rankuwa landdroshof verskyn.
- Sapa