Twee van Vryheidsparty vas oor terreurkomplot
2012-12-17 09:59
Johannesburg – Minstens twee van die vier mense wat in hegtenis geneem is vir beweerde terreurdade, is lede van die nuutgestigte Federale Vryheidsparty, is bevestig.
Francois Cloete, nasionale sekretaris van die party, het gesê hul president en 'n lid van hul uitvoerende raad is in Mookgopong (Naboomspruit), Limpopo, in hegtenis geneem.
Cloete het die Federale Vryheidsparty beskryf as 'n "party wat homself beywer om namens die Afrikaner- en Boerevolk 'n deelstaat te verkry".
Die party het gesê hy weet niks van die beweerde komplot nie.
Intussen het die polisie gesê nóg in hegtenisnemings word verwag nadat die vier aangekeer is.
Bewerings dat die ANC se verkiesingskonferensie in Mangaung 'n moontlike teiken was, kon nie bevestig word nie. Die ANC se nasionale konferensie wat in Mangaung gehou word, het Maandag sy tweede dag betree en die benoemings vir die topses-posisies in die party sal na verwagting bekend gemaak word.
Die Vrystaatse polisiekommissaris, Khehla Sithole, het gesê daar is reeds lankal bewyse ingesamel oor die verdagtes se bedrywighede . Hy het verder gesê die lewens van onskuldige mense is bedreig.
'n Polisiewoordvoerder het gesê twee mans is in die Vrystaat vasgetrek en die ander mans in twee ander provinsies. Die mans is tussen 40 en 50 jaar oud en sal binnekort in die hof verskyn.
Brig. Billy Jones, polisiewoordvoerder, het gesê die saak word verder ondersoek.
"Ja, ons verwag om nog mense in hegtenis te neem, maar ons kan nie in die stadium verdere inligting bekendmaak nie."
Die vier mans, tussen die ouderdomme van 40 en 50, is Sondag in hegtenis geneem en verskyn binnekort in die hof.
"Hul perseel is deursoek en ondersteunende bewyse in die ondersoek is gevind."
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA