Twee tieners sterf ná argumente
2011-12-18 12:47
Johannesburg – Twee tieners is in twee afsonderlike voorvalle naby Mthatha oorlede nadat hulle argumente gehad het, die Oos-Kaapse polisie Sondag gesê.
Volgens luit. kol. Mzukisi Fatyela is 'n 18-jarige man Saterdagaand in Tsolo doodgesteek.
"'n Argument het omstreeks 21:00 tussen die twee mans tydens 'n tradisionele seremonie uitgebreek. Hulle het albei messe gehad en mekaar gesteek."
Die een man het op pad na die hospitaal gesterf.
Sy vermeende moordenaar is tans onder polisiebewaking in die hospitaal opgeneem.
Die man sal van moord aangekla word sodra hy herstel, het Fatyela gesê.
In 'n ander voorval in Bityi, sowat 5 km buite Mthatha, is 'n 19-jarige man Saterdagaand om 23:00 doodgesteek.
Twee mans was besig om van 'n kroeg te loop toe 'n argument uitgebreek het, het Fatyela gesê.
"Die een man het 'n mes uitgehaal en die ander een gesteek. Die verdagte het toe weggehardloop."
Die gewonde man is op die toneel oorlede.
Die polisie het die vermeende moordenaar later by sy huis gearresteer.
Hy sal na verwagting Maandag in die hof in Bityi verskyn.
Dit is nie bekend wat tot aanleiding van die argumente in albei voorvalle gegee het nie.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA