Twee sterf, vier beseer in Springs-ongeluk
2011-09-04 14:11
Johannesburg – Twee mense is dood en vier ander is beseer in ‘n trompop-botsing op die N17 in Springs, het paramedici gesê.
Jeffrey Wicks, woordvoerder vir Netcare 911, sê daar word vermoed dat ‘n motor ‘n stadige voertuig verbygevat het en in die aankomende verkeer beland het.
Hy sê twee motors het teen mekaar gebots en in die middel van die pad tot stilstand gekom het.
Een van die bestuurders het kritieke beserings opgedoen en gesterf voordat paramedici by die ongelukstoneel opgedaag het.
‘n Tienermeisie, wat een van die passasiers van die ander motor was, is ook dood. Haar lyk het naby die motor gelê.
Die 16-jarige meisie se pa was die bestuurder. Hy was in die wrak vasgekeer en is kritiek beseer.
Haar ma en twee broers was in ‘n ernstige toestand.
Die pa is per helikopter na die Netcare Milpark Hospitaal in Johannesburg geneem en die ma en twee kinders is na ‘n nabygeleë hospitaal geneem.
Wicks sê die N17 is Sondag ná ongeluk gesluit.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA