Twee sterf ná motor op N1 omslaan
2011-12-02 16:03
Johannesburg – Twee mense is dood en drie ander beseer nadat die motor waarin hulle gery het op die N1 naby die Grasmere-tolhek, suid van Johannesburg, omgeslaan het, het paramedici gesê.
Die bestuurder van die motor het waarskynlik beheer oor die voertuig verloor, waarna die voertuig die pad verlaat en verskeie kere gerol het, het Jeff Wicks, woordvoerder van Netcare, gesê.
"Die bestuurder en 'n passasier is uit die voertuig geslinger toe dit omgeslaan het."
Albei is op die toneel dood.
Twee van die drie beseerdes is in 'n ernstige toestand.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA