Twee sterf ná motor in vlamme uitbars
2011-11-18 16:10
Bloemfontein – Twee mense het doodgebrand nadat die motor waarin hulle gery het op die Dewetsburg-pad naby Bloemfontein in vlamme uitgebars het, het paramedici Vrydag gesê.
Jeffrey Wicks, woordvoerder van Netcare, het gesê 'n ander motor wat in dieselfde rigting gery het, het die motor van agter getref.
Die bestuurder van die voorste motor het beheer oor die voertuig verloor, waarna dit tot stilstand gekom en in vlamme uitgebars het.
Die twee insittendes van die motor het doodgebrand.
Wicks het gesê die ander motor het in 'n veld tot stilstand gekom. Die bestuurder van die motor het ná die ongeluk weggehardloop.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA