Twee sterf in ontploffing by Durban-fabriek
2012-01-20 11:15
Johannesburg – Twee mense is Vrydag in ‘n ontploffing by ‘n fabriek in Durban dood, het East Coast Radio berig.
Brandbestryders het kort ná middernag op die toneel aangekom terwyl die gebou in Brooklyn-weg nog gebrand het.
“Hulle het bykans drie ure gespook om die brand, wat reeds na die bokant van die chemiese tegnologie-fabriek versprei het, in bedwang te bring,” het Justin Bateman van die eThekwini brandweerdepartement gesê.
Hy het aan die radiostasie gesê dat dit nie bekend was of die twee werkers as gevolg van die ontploffing dood is en of dit as gevolg van die rook en chemikalieë was nie.
“Ons het geweet daar is mense in die fabriek... en ons het met ons aankoms die gebou binnegegaan, maar die twee was toe reeds dood,” het Bateman gesê.
“Die oorsaak van die brand is onbekend en sal ondersoek word.”
Amptenare was Vrydagoggend op die toneel om die kwaliteit van die lug by die toneel te bepaal.
Die fabriek se bestuur kon nie onmiddellik vir kommentaar bereik word nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA