Twee sterf in ongeluk naby Warden
2012-01-10 13:25
Johannesburg – Twee mans is dood en sewe mense het beserings opgedoen toe ‘n vragmotor van agter af teen ‘n bakkie naby Warden in die Vrystaat gebots het, het paramedici gesê.
Volgens Jeff Wicks, ‘n woordvoerder vir Netcare 911, het paramedici die lyke onder die wrak van die vragmotor op die N3 gevind. Die ongeluk het Dinsdagoggend gebeur.
Hy sê twee van die beseerdes het kritieke beserings opgedoen. Hulle is op die ongelukstoneel behandel en na die Harrismith-hospitaal geneem.
Die insittendes van die vragmotor is nie beseer nie.
Wicks sê die oorsaak van die ongeluk is onbekend. Beide voertuie het aan dieselfde kant van die hoofweg gery.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA