Twee sterf in Pta-motorfietsongelukke
2011-11-15 19:44
Johannesburg – Twee mense is in twee verskillende motorfietsongelukke Dinsdag in Pretoria dood, het die Tshwane-metropolisie gesê.
Louise Brits, woordvoerder, het gesê die eerste ongeluk het plaasgevind toe ‘n motorfietsryer vasgery het teen die waentjie van ‘n vragmotor wat by ‘n vulstasie in Wonderboom ingedraai het.
“Die motorfietsryer het beswyk aan beserings wat in die ongeluk opgedoen is,” het sy gesê.
In die tweede ongeluk is ‘n vrou wat agterop ‘n motorfiets gesit het dood toe die bestuurder teen ‘n versperring aan die kant van die pad op die N14 naby Brakfontein vasgery het.
Volgens Brits is die bestuurder, ook ‘n vrou, in die hospitaal opgeneem.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA