Twee sterf in Knysna ná skoolbus in dam val
2011-08-24 09:37
Kaapstad – Twee mense is dood en meer as 35 beseer nadat die bus waarin hulle gery het, die pad verlaat en in 'n dam in Rheenendal in Knysna beland het, het André Visser, woordvoerder van ER24, gesê.
Die ongeluk het omstreeks 08:10 Woensdagoggend plaasgevind.
In die stadium is geen ander besonderhede bekend nie, maar Visser het aan Nuus24 bevestig dat die bus nog in die dam is.
"Ons wil 100% seker maak van ons feite voor ons enigiets aan die publiek bekend maak," het Visser gesê.
Dit is nog nie bekend waarheen die bus onderweg was of van watter skool die bus is nie.
"Meer inligting sal binnekort bekend gemaak word," het Visser gesê.
Intussen het die SABC berig dat die Heimersrivier-grondpad naby Oudtshoorn in die Klein Karoo weens vloede en modderstortings gesluit is.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Nuus24