Twee sterf, 14 beseer ná taxi omslaan
2011-09-21 10:53
Johannesburg – Twee mans is dood en 14 beseer nadat 'n taxi in Benoni, Gauteng, omgeslaan het, het paramedici Woensdag gesê.
Jeff Wicks, woordvoerder van Netcare, het gesê die taxi het verskeie kere gerol voor dit tot stilstand gekom het.
Die bestuurder en 'n passasier is voor paramedici se aankoms op die toneel dood.
Een van die passasiers is per helikopter na die Charlotte Maxeke Akademiese Hospitaal geneem nadat hy uit die taxi geslinger is en die taxi op hom geval het.
Die ander 13 passasiers is na verskeie hospitale in die gebied geneem.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA