Twee sterf, 13 beseer in Jhb-botsing
2011-12-24 22:55
Johannesburg – Twee mense is dood en 13 ander beseer nadat 'n taxi teen betonversperrings in Parktown, Johannesburg, gebots het, het die metropolisie Saterdag gesê.
Hoofsupt. Wayne Minnaar, woordvoerder van die Johannesburgse metropolisie (JMPD), het gesê 'n vierjarige meisie en 'n 23-jarige man is uit die taxi geslinger en is op die toneel dood.
Minnaar het gesê die man wat uit die taxi geslinger is, is toe deur 'n aankomende motor getref.
Hy het gesê die taxi het familielede na Soweto vervoer toe die bestuurder beheer oor die voertuig verloor en teen die betonversperrings gebots het.
Vier volwassenes en nege kinders tussen die ouderdomme van vier en sewe is hospitaal toe geneem vir verdere behandeling.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA