Twee seuns verdink in Mosselbaai
2010-02-21 00:41
Kaapstad - Na 'n groep swemmers in Mosselbaai in die moeilikheid beland het, het 'n branderplankryer daarin geslaag om twee van hulle te red.
Twee seuns het egter verdrink.
Volgens Craig Lambinom, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut, het Llewellyn Whittaker pas deelgeneem aan die plaaslike Wave and Surf School se branderplank-kompetisie op Diazstrand, toe hy agtergekom het ‘n groep swemmers is in die moeilikheid.
Net na die kompetisie het ‘n groep seuns tussen die ouderdom van 10 en 13 in die see ingegaan om te swem.
‘n Sterk stroom het drie seuns en ‘n man sowat 50 tot 100 meter die see ingetrek.
“Whittaker het na hulle op sy branderplank uitgeswem en het betyds by die man en een van die seuns uitgekom,” het Lambinom gesê.
Twee ander branderplankryers het ook gaan help, maar toe hulle by die twee ander seuns uitkom, het hulle reeds gesig na onder in die water gedryf.
Noodlenigingswerkers het hulle mond-tot-mond asemhaling gegee, maar dit was reeds te laat.
Die ander seuns is hospitaal toe geneem.
- Sapa