Twee renosters in Vrystaat onthoring
2011-10-26 13:16
Bloemfontein – Twee witrenosters is in 'n reservaat in die Vrystaat geskiet en onthoring, het Kgotso Tau, woordvoerder van die departement van omgewingsake, Woensdag gesê.
Die karkasse van 'n dragtige koei en 'n renosterkalf is Maandagoggend by die Sandveld-natuurreservaat naby Bloemhof gevind.
Tau het gesê dit lyk asof die renosters Sondagaand doodgemaak is.
Verskeie spore is in die gebied gevind en daar word vermoed dat die stropers te voet in die reservaat was.
"Ons is gelukkig dat stropers tot dusver nie aktief in die provinsie was nie," het Tau gesê.
Tau het gesê wildbewaarders is in reservate in die Vrystaat ontplooi.
Dít is die tweede voorval vanjaar in die Vrystaat waar renosters gestroop is.
'n Renosterkoei is in Februarie vanjaar by die Willem Pretorius-reservaat naby Ventersburg geskiet.
'n Totaal van 309 renosters is vanjaar in Suid-Afrika gestroop, het die nasionale departement van omgewingsake vroeër gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA