Twee polisiebeamptes vas vir omkopery
2012-01-18 18:56
Johannesburg – ‘n Polisieman en polisie-reservis is Woensdag in hegtenis geneem in verband met omkopery in Worcester, het die polisie in die Wes-Kaap gesê.
‘n Derde polisiekonstabel word ondervra, maar is nog nie in hegtenis geneem nie, het ao. November Filander gesê.
Hy sê die twee wat in hegtenis geneem is, beide 31, het R15 000 van ‘n vervoermaatskappy geëis om ‘n blinde oog te draai na onwettige goedere wat dit vervoer het.
Dit is onduidelik of die omkoopgeld betaal is.
Worcester is ‘n belangrike deurgang vir vragmotors wat van Kaapstad na Johannesburg ry op die N1-snelweg.
Die ondersoek is al sedert November verlede jaar onderweg en duur steeds voort,” het Filander gesê.
Filander sê die twee was verras toe hulle voor hul kollegas in hegtenis geneem is.
Hulle word by die polisieselle in Bellville naby Kaapstad aangehou en sal Vrydag op aanklagte van korrupsie in die Worcester-landdroshof verskyn.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA