Twee plaasaanvallers skuldig bevind
2010-07-20 23:31
Pretoria – Twee lede van ‘n bende is Dinsdag van moord en diefstal skuldig bevind nadat hulle Brink Botha,‘n boer en hondeteler van Brits, vermoor het.
Thomas Chauke en Zondi Nkuna is in die hooggeregshof in Pretoria skuldig bevind vir die moord op Brink by sy plaas op 3 November 2008.
Hulle het ook selfone, R200 en ‘n bakkie by Brink en sy vrou, Christelle, gesteel.
Beide is ook skuldig bevind aan dieremishandeling nadat hulle agt van die paartjie se honde gif ingegee het. Een hond het op die toneel gevrek en twee is hospitaal toe geneem.
Regter Peter Mabuse het Chauke ook skuldig bevind vir die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie.
‘n Derde verdagte is deur die polisie doodgeskiet.
Die twee veroordeelde moordenaars was deel van ‘n bende wat toegang tot die huis gekry het deur ‘n slaapkamervenster uit te slaan.
Botha is twee keer in die borskas geskiet toe hy die verdagtes probeer keer het.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA