Twee omstrede ministers vervang
2011-10-24 16:33
Kaapstad – Sicelo Shiceka, minister van samewerkende regering, en Gwen Mahlangu-Nkabinde, minister van openbare werke, is deur ander ministers vervang.
Pres. Jacob Zuma het Maandag op ‘n mediakonferensie by die Uniegebou in Pretoria aangekondig dat Thembelani “Thulas” Nxesi, adjunkminister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, die nuwe minister van openbare werke sal word.
Die president het ook gesê dat Richard Baloyi, minister van die staatsdiens en administrasie, die nuwe minister van samewerkende regering is.
Hy het nie direk gesê dat Shiceka en Mahlangu-Nkabinde die trekpas gekry het nie.
Die president se aankondiging kom nadat daar wyd bespiegel is oor ‘n moontlike kabinetskommeling.
Zuma se besluit kom ook nadat daar hewige druk op hom geplaas is om Shiceka en Mahlangu-Nkabinde af te dank.
Cosatu het vroeër ‘n beroep op die president gedoen om Shiceka die trekpas te gee. Die vakverbond het bygevoeg dat Thuli Madonsela, openbare beskermer (OB), se verslag toon dat die minister korrup is.
Madonsela het vroeër vandeesmaand Shiceka skuldig bevind aan wanadministrasie en die misbruik van openbare fondse. Sy het ook die president gemaan om "ernstige aksie" teen hom te oorweeg.
Sy het gesê Shiceka het die destydse waarnemende president, Kgalema Motlanthe, doelbewus mislei oor 'n reis na Switserland omdat hy twee keer sy meisie in die tronk besoek het, het Sapa vroeër berig.
Zuma se stappe teen Mahlangu-Nkabinde kom ná die omstrede polisie-huurkontrakte wat genl. Bheki Cele, nasionale polisiehoof, ook in ‘n slegte lig geplaas het.
Die president het Maandag aangekondig dat Cele geskors is.
Madonsela het bevind die minister en Cele het onregmatig en onwettig opgetree in verband met twee huurooreenkomste vir polisiekantore in Pretoria en Durban.
Die OB het ook gesê Mahlangu-Nkabinde het geweier om haar samewerking tydens die ondersoek te gee.
Madonsela het in Julie voorgestel dat Zuma teen Cele en Mahlangu-Nkabinde optree vir hul rol in die ondertekening van die peperduur huurkontrakte.
Die nuus van Mahlangu-Nkabinde se afdanking kom minder as ‘n week nadat sy gesê het sy sal nie bedank nie.
“Ek sal minister bly vir so lank as wat die president en die mense van Suid-Afrika my hier wil hê,” het sy verlede Woensdag in die parlement gesê.
Volg Nuus24 op Twitter
- Nuus24