Twee ná moorde op plaas gevang
2011-07-04 08:09
Johannesburg – Ná vinnige optrede deur die polisie was twee mans, wat verdink word van die moord Vrydagaand op ’n egpaar van Heidelberg, teen gisteroggend reeds agter tralies.
Die polisie het een van die twee vermeende moordenaars Saterdagnag in hegtenis geneem en die ander een Sondagoggend.
Chris le Roux het die naweek op sy vermoorde ma en stiefpa se lyke in hul plaashuis naby Heidelberg afgekom nadat iemand ’n selfoon opgetel en die eerste nommer daarop gebel het.
Le Roux het sy ma, Charlotte Bekker (60), se lyk Saterdagoggend vroeg in die sitkamer gekry. Sy het steek- en snywonde aan die bors en die res van haar lyf gehad en haar hande was met ’n stuk bloudraad vasgebind. Martiens Bekker (68) se lyk het in die slaapkamer gelê. Hy is ook vermoedelik doodgesteek.
“Ek is net dankbaar oor een ding,” het mnr. Le Roux se vrou, Annelene, gesê. “Die kinders wou almal Vrydagaand by Ouma op die plaas kom slaap het, maar dit het nie uitgewerk nie. Dink net wat kon gebeur het.”
Volgens haar het hulle Saterdag omstreeks 05:00 ’n oproep van ’n werknemer van die Safari-insleepdiens in Heidelberg gekry wat ’n selfoon by ’n verlate Volkswagen Polo opgetel het. Die motor het op die R41-deurpad naby Vereeniging gestaan en was erg beskadig omdat dit van die pad geloop of in ’n ongeluk betrokke was.
“Volgens die man, Danie, het hy die eerste nommer op die selfoon gebel en by my uitgekom. Ons het my ma dadelik probeer bel, maar geen antwoord gekry nie. Chris het toe soontoe gejaag,” het sy gesê. Die Le Rouxs boer sowat 8 km daarvandaan.
Danie Knoetze van die insleepdiens het gesê hy en ’n kollega het op die H.F. Verwoerd-brug oor die R23-deurpad gesit en wag toe ’n man by hulle stilhou en sê ’n motor het ’n ent verder omgeslaan.
“Toe ons daar kom, so 25 km van Heidelberg, was die polisie al daar.
“Ek het die selfoon in die gras opgetel en begin bel. Dis toe dat ek by die mense se dogter uitgekom het.”
Die vermoede bestaan dat mnr. Bekker Vrydagaand laat buite die huis aangeval en daarna tot in die huis gedwing is. Bloedkolle is buite die huis gekry.
Omstreeks 22:00 die aand het die polisie op grond van vingerafdrukke wat in die huis gekry is inligting oor twee verdagtes gekry. Die eerste is kort daarna in die omgewing van Balfour in hegtenis geneem en die tweede een gisteroggend.
Nog geen begrafnisreëlings is getref nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld