Twee mans sterf in opeenhoping
2012-01-09 11:02
Johannesburg – Twee mans het gesterf en vyf mense is kritiek beseer in ‘n opeenhoping naby Nkomazi, Mpumalanga, het ‘n woordvoerder vir die gemeenskap gesê.
Joseph Mabuza sê drie voertuie was in Maandagoggend se ongeluk betrokke.
Hy sê die bestuurder van ‘n Nissan-bakkie het gekla dat hy moeg is voordat hy op die N4 beheer oor sy voertuig verloor het.
“Die bakkie het in die ander baan beland en trompop teen ‘n aankomende Honda-sedan gebots,” het Mabuza gesê.
Daarna het ‘n polisievoertuig, wat agter die Honda gery het, van agter teen die motor gebots.
Mabuza sê die bakkie het van Mosambiek na Secunda gery.
Die bestuurder en ‘n passasier het op die toneel gesterf. Vyf passasiers is na die Ro Ferreira-hospitaal geneem.
Volgens Mabuza het niemand in die twee ander voertuie beserings opgedoen nie.
Hy sê die hele hoofweg is gesluit.
Hy het motoriste aangeraai om spoed te verminder en ‘n blaaskans te neem wanneer lang afstande gery word.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA