Twee mans deur gemeenskap doodgeslaan
2011-08-15 17:23
Johannesburg – Twee mans, waarvan een daarvan verdink word dat hy ‘n bejaarde vrou probeer verkrag het, is deur gemeenskappe in die Oos-Kaap doodgemaak, het die polisie Maandag gesê.
Volgens brig. Marinda Mills is Lusanda Kongolo doodgeslaan nadat hy daarvan beskuldig is dat hy Sondag probeer het om ‘n bejaarde vrou te verkrag. Hy word ook beskuldig van die verkragting van en moord op ‘n bejaarde vrou in Julie vanjaar.
Kongolo het op pad na die hospitaal gesterf weens sy beserings. Vier mans is in verband met die aanval in hegtenis geneem.
In ‘n ander voorval wat ook Sondag plaasgevind het, is die 28-jarige Banda Maphelo doodgeslaan nadat beweer is dat hy by verskeie huise ingebreek het.
“Hy is na bewering Sondag op heterdaad betrap,” het Mills gesê.
‘n Vrou en twee mans is in verband met die aanval in hegtenis geneem.
Die beskuldigdes sal eersdaags in onderskeidelik die Mthatha-landdroshof en die Indwe-landdroshof verskyn.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA