Twee leerders by Kaapse skool gesteek
2009-09-15 21:06
Johannesburg - Twee gr.8-leerders is in hegtenis geneem nadat hulle twee mede-leerders by 'n skool op die Kaapse Vlakte gesteek het.
Die Wes-Kaapse LUR vir onderwys, Donald Grant, het dié voorval van geweld ten sterkste veroordeel.
Twee gr.9 leerders aan die Arcadia Sekondêre Skool in Bonteheuwel is Dinsdag deur twee gr.8-leerders met 'n mes gesteek.
Dié voorval is glo bendeverwant.
Die gewonde leerders is hospitaal toe geneem vir behandeling en is dieselfde dag ontslaan. Die ander twee leerders is in hegtenis geen en hul ouers is ingeroep.
Dié skool is een van die gevaarlikste skole in die provinsie en sal Woensdag twee metaalverklikkers kry.
Grant het gesê dit is spyt dat daar nóg só 'n voorval moet wees.
"Maandag het ons geweld in skole bespreek en vandag is weer 'n voorval aangemeld."
Hy het gesê die leerders en onderwysers by dié skool sal van Woensdag af traumabehandeling ontvang.
"Polisieteenwoordigheid om die skool is ook verskerp. Ons leerders word op 'n daaglikse basis gekonfronteer met geweld. Dít het 'n negatiewe uitwerking op die kwaliteit van onderrig in ons skole," het Grant gesê.
Hy het gesê 'n leeromgewing kan slegs veilig wees wanneer leerders die verantwoordelikheid neem om nie geweld te gebruik om hul konflik op te los nie.
– Sapa