Twee kinders verbrand in Durbanse middestad
2012-01-13 16:03
Johannesburg – Twee kinders het in ‘n brand in Victoria Embankment in Durban se middestad gesterf, het paramedici gesê.
Derrick Banks, ‘n woordvoerder vir ER24, sê die kinders – onderskeidelik een en drie jaar oud – het ernstige brandwonde opgedoen.
Polisiebeamptes, brandweerdienste en reddingswerkers was op die toneel. Victoria Embankment is een van die stad se oudste en bekendste strate.
Banks sê ER24 sal die sterftes amptelik verklaar sodra die polisie en brandweerdienste die nodige bedrywighede voltooi.
Die brand het Vrydag omstreeks 12:50 op die tweede verdieping van ‘n woonstelblok ontstaan. Die oorsaak van die brand is nog onbekend.
Die ma van die kinders word vir skok behandel.
Niemand anders is beseer nie.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA