Twee kinders sterf in Cradock-busongeluk
2012-07-21 15:00
Johannesburg – Twee skoolkinders is onder die 18 mense wat dood is nadat 'n skoolbus met 'n minibus op die R61-pad tussen Cradock en Graaf-Reinet in die Oos-Kaap gebots het.
"Die dodetal het tot 18 gestyg. Vroeër is berig dat 16 mense dood is, maar twee ander is in die hospitaal dood," het 'n woorvoerder vir die Arrive Alive-veldtog, Tshepo Machaea, gesê.
Ashraf Ismail, 'n woordvoerder vir Suid-Afrika se padagentskap, het aan AFP gesê 13 van die oorledenes was in die minibus en twee van die ander sterftes is kinders.
Veertien mense is ernstig beseer. Hulle is almal na nabygeleë hospitale geneem.
Die skoolbus het kinders blykbaar na 'n sportbyeenkoms vervoer terwyl die minibus met passasiers vanaf Kaapstad na Mthatha onderweg was toe die ongeluk plaasgevind het.
'n Woordvoerder vir die departement van vervoer, Ncebo Kumbaca, het gesê die adjunkminister, Sindisiwe Chikunga, sal die beseerdes binnekort by die hospitale besoek.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA