Twee kinders dood toe taxi teen huis bots
2011-04-25 18:53
Johannesburg - ‘n 26-jarige man is in Giyani in hegtenis geneem nadat twee kinders dood is toe ‘n minibus-taxi teen ‘n huis gebots het, het die polisie in Limpopo Maandag gesê.
Volgens ao. Thomas Makhubela het die ongeluk Sondagaand in die dorp Mphakane gebeur.
“Die man het met ‘n wit Toyota Quantum gery toe hy blykbaar beheer oor die motor verloor en teen ‘n huis gebots het,” het Makhubela gesê.
Die mure van die huis en die dak het ineengestort en ‘n agtjarige meisie en ‘n negejarige seun dood gelaat.
‘n Vrou in haar veertigs en haar eenjarige baba, wat ook in die huis was, was in ‘n ernstige toestand en is na die Nkhensani-hospitaal gehaar.
Volgens Makhubela is hy deur die polisie, wat hom in hegtenis geneem het, gered van die woedende inwoners van die dorp.
“Dit is nog nie duidelik of die twee dooie kinders die kinders van die beseerde vrou is nie.”
Die man sal Dinsdag in die Giyani-landdroshof verskyn op twee aanklagte van strafbare manslag.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA