Twee kapers in Jhb vasgetrek
2010-08-05 04:45
Johannesburg – Twee mans is in hegtenis geneem nadat hulle glo Woensdagaand ‘n taxi in Hillbrow gekaap het, het metropolisie in Johannesburg gesê.
Beamptes wat die Soweto-hoofweg gepatrolleer het, het opgemerk dat die taxi roekeloos ry en toe hulle probeer om dit af te trek het die insittendes begin skiet, het hoof supt. Wayne Minnaar gesê.
Metropolisie het begin terugskiet en die taxi tot ‘n stilstand gebring op Odendaalstraat in Meadowlands, Soweto.
Niemand is in die skietery beseer nie.
Twee mans is in hegtenis geneem en ‘n ongelisensieerde vuurwapen is gekonfiskeer.
Die taxibestuurder was nog in die taxi, maar hy is nie beseer nie.
Twee ander vermeende kapers het uitgespring en weggehardloop tydens die voorval.
Daar was geen passasiers in die taxi toe dit gekaap was nie.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA