Twee in hof ná bomdreigemente
2010-07-09 13:14
Kaapstad – Twee mans wat glo bomdreigemente na Fifa-geleenthede gemaak het, het Vrydag vinnig in die Kaapstadse streekhof verskyn.
Norman Khanyile (37), wat hierdie week by ‘n jolkol in Kaapstad gearresteer is, se saak is uitgestel sodat sy prokureurs voorstelle aan die Wes-Kaapse direkteur van openbare vervolging kan maak om die klag te laat vaar.
Khanyile is uit op waarskuwing en moet weer op 21 Julie in die hof verskyn.
Adv. Murray Zimbler het buite die hof gesê sy kliënt het aan ‘n sekuriteitswag by die ingang van die jolkol gevra of die wag vir vuurwapens, handgranate en bomme soek.
“Dít kom nadat daar aan Khanyile se tienjarige dogter gesê is sy mag nie haar koeldrank inneem nie.”
Sy dogtertjie is saam met hom na die polisiestasie geneem voordat haar ma haar daar kom haal het.
Khanyile is van Goodwood in Kaapstad.
In ‘n ander hofsaak het Bernd-Jurgen Fischer (68), ‘n Duitse fotograaf, in die hof verskyn nadat hy aan die polisie en sekuriteitsbeamptes gesê het daar is ‘n bom in sy kamera.
Hy is verlede jaar op 4 Desember by die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum (Kiks) gearresteer tydens die loting van die Wêreldbekertoernooi.
Fischer, wat jaarliks ‘n paar maande in Suid-Afrika deurbring, sal weer op 6 Augustus vir ‘n verhoordatum in die hof verskyn.
Hy is uit op borgtog van R5000.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA