Twee in hegtenis oor gesteelde motoronderdele
2011-07-13 20:04
Johannesburg – ‘n Man en sy tiener-suster is Woensdag in Phiri, Soweto, in hegtenis geneem nadat onderdele van gesteelde motors by hul huis gevind is, het die polisie gesê.
Volgens ao. Kay Makhubela het die polisie die huis besoek nadat hulle ‘n wenk gekry het. By die huis het hulle onderdele van meer as 10 motors, insluitende ‘n ratkas en onderdele van Volkswagen Golf-enjins, gevind.
Hulle het ook ‘n 50 kg-sak vol anti-retrovirale tablette gevind.
“Ons is nie seker wat hulle met die anti-retrovirale tablette gedoen het nie, maar die ondersoek duur voort,” het hy gesê.
Die polisie het later vasgestel dat sommige van die onderdele uit ‘n motor wat in Februarie in Alberton gesteel is, afkomstig is. Van die ander onderdele is dié van ‘n motor wat in Maart in Honeydew gesteel is.
Vier motors wat nog nie gestroop is nie, was by die huis geparkeer.
Makhubela het gesê die 20-jarige man en die 16-jarige meisie het aan die polisie gesê hulle het saam met hul pa gewoon. Hy was nie tuis nie.
Hy het gesê die twee word aangekla van die besit van gesteelde motors. Nog aanklagte sal bygevoeg word namate die ondersoek voortduur.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA