Twee in Pta vas vir ontvoering
2011-10-11 21:07
Johannesburg – Twee mans is in Lyttelton, Pretoria, in hegtenis geneem vir die ontvoering van drie vroue, het die polisie Dinsdag gesê.
Hulle is laat Maandagaand by ‘n dupleks in Zwartkop in hegtenis geneem toe die polisie ‘n wenk ontvang het oor ‘n ontvoering wat uitgevoer word, het kapt. Brian Plaatjies in ‘n verklaring gesê.
Toe die polisie op die toneel aangekom het, het drie vroue van die dupleks se balkon gespring en na die hek gehardloop.
Volgens Plaatjies het drie mans in verskillende rigtings uit die huis gehardloop toe die hek oopgaan. Die polisie het bystand ingeroep.
Twee Nigeriese mans is in hegtenis geneem. Die derde man het ontsnap.
Die polisie het beslag gelê op sowat R10 000 se dwelms, 13 selfone, elektroniese toerusting, juweliersware en sowat R8 300 wat in die dupleks gevind is.
Plaatjies het gesê verdere besonderhede kan nie bekend gemaak word nie, aangesien die ondersoek nog voortduur.
Die mans sal eersdaags in die Centurion-landdroshof verskyn op aanklagte van die besit van gesteelde goedere, die besit van dwelms en ontvoering.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA