Twee in KZN vas vir moord
2012-01-18 17:58
Durban – Twee mans wat daarvan aangekla word dat hulle die eienaar van ‘n winkel beroof en vermoor het, is by hul huise in Dubeni Ward, Melmoth, in hegtenis geneem, het die polisie in KwaZulu-Natal Woensdag gesê.
Die twee, wat onderskeidelik 20 en 23 jaar oud is, is Dinsdag in aanhouding geneem, het kapt. Thulani Zwane gesê.
Hulle het glo in Vincent Mpungose (40) se huis ingebreek terwyl hy geslaap het en het hom omstreeks 21:00 op 22 Desember in die bors geskiet.
“Hulle het ‘n onbekende hoeveelheid geld en drie selfone gesteel,” het Zwane gesê.
Met die mans se inhegtenisnaming het die polisie beslag gelê op ‘n selfoon en ‘n ongelisensieerde vuurwapen wat vermoedelik die moordwapen was.
Die mans sal Donderdag in die Melmoth-landdroshof verskyn op aanklagte van huisbraak en moord.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA