Twee hof toe vir seks met 15-jarige
2012-02-03 15:34
Johannesburg – Die uitvoerende hoof van ‘n hospitaal in die Noordwes en sy vriend sal volgende week op aanklagte van statutêre verkragting in die Taung-landdroshof verskyn, het die polisie in die Noordwes Vrydag gesê.
Die 37-jarige man en sy 31-jarige vriend, ‘n werknemer van die Taung-munisipaliteit, is in Oktober in hegtenis geneem nadat hulle glo seks met ‘n 15-jarige gehad het, het brig. Thulani Ngubane gesê.
“Daar word beweer dat (die uitvoerende hoof), wat ‘n verhouding met die 15-jarige minderjarige gehad het, ‘n partytjie saam met haar bygewoon het. Hy het gevolglik seks met die slagoffer gehad en het sy vriend gevra om haar huis toe te neem,” het Ngubane gesê.
Die vriend het glo op pad huis toe ook seks met die meisie gehad en sy het vir haar suster vertel wat gebeur het.
Die suster het die voorval by die polisie aangemeld en die twee mans is in hegtenis geneem.
Die twee mans het verlede maand in die Taung-landdroshof verskyn, waar die uitvoerende hoof borgtog van R1 000 toegestaan is en sy vriend borgtog geweier is.
Die saak is tot Dinsdag 7 Februarie uitgestel.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA