Twee gevang met vervalste banknote
2010-04-16 14:02
Johannesburg – Twee mans is Vrydag in Hillbrow vasgetrek nadat die polisie vervalste banknote ter waarde van R500 000 in hulle motor gevind het.
Volgens kapt. Katlego Mogale, polisiewoordvoerder, het die polisie ‘n verdagte Toyota Camry in Kotzestraat omstreeks 07:00 opgemerk.
“Die polisie het die voertuig agtervolg en dopgehou. Hulle het verdagtes daarna afgetrek en die voertuig deursoek,” het Mogale gesê.
Die polisie het ‘n sak onder die passasiersitplek gevind. “Die sak was vol R200-note ter waarde van R500 000.”
Die mans, onderskeidelik 28 en 45 jaar oud, sal aangekla word omdat hulle vervalste geld in hulle besit gehad het.
- Sapa