Twee doodgeskiet in polisie-jaagtog
2011-06-07 20:57
Johannesburg - Twee mans is doodgeskiet en een is beseer in ‘n hoëspoed-polisie-jaagtog in Benoni aan die Oosrand Dinsdagmiddag, het die Ekurhuleni-metropolisie gesê.
“Ons monitor hierdie groep nou al die afgelope paar weke en het ‘n wenk gekry dat hulle van voorneme was om ‘n plek in Witbank te beroof,” het Wilfred Kgasago, woordvoerder, gesê.
“Ons het hulle agtervolg en probeer voorkeer op die N12 tussen die Etwatwa- en Holfontein-afrit, maar hulle het op die polisie begin skiet en nie gehoor gegee aan die instruksie nie,” het hy gesê.
Die polisie het twee van die mans in die voertuig, ‘n rooi Volkswagen Golf, doodgeskiet. ‘n Derde man is beseer en na die Tembisa-hospitaal geneem.
Drie ongelisensieërde gewere is gevind.
“Ons beplan om die beseerde man aan te kla in verband met die gewere en ook te ondersoek of hulle betrokke was by ‘n reeks rooftogte in die Emalahleni- en Ekurhuleni-areas,” het Kgasago gesê.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA