Twee dood ná bakleiery by tronk
2013-01-19 07:34
Kaapstad – Twee gevangenes is dood en 65 beseer in 'n groot bakleiery Vrydag in 'n tronk in Port Elizabeth, het 'n amptenaar van die departement van korrektiewe dienste gesê.
"Twee verhoorafwagtendes is dood, en 17 is na 'n hospitaal geneem vir observasie," het Nkosinati Breakfast, streekskommissaris, gesê, en bevestig dat altesaam 65 gevangenes beseer is.
Die bakleiery het laatmiddag uitgebreek by die St Albans-tronk. Die onderonsie het in ses selle, elk met sowat 38 gevangenes in, begin.
Altesaam 2 083 verhoorafwagtendes word in die fasiliteit aangehou.
"Ons het nog nie vasgestel wat die oorsaak van die bakleiery was nie, maar ons weet dit is begin deur die 28-bende," het Breakfast aan die nuusagentskap AFP gesê.
Die 28-bende is een van die gevaarlikste bendes in Suid-Afrika se tronke.
Slotte, skerp voorwerpe en besemstokke is in die bakleiery gebruik.
Die bakleiery was egter nie net 'n konfrontasie tussen bendes nie, omdat almal in die selle daaraan deelgeneem het, het Breakfast gesê.
"Hulle het sommer almal in die sel aangerand, of jy 'n bendelid is of nie, en ongeag of jy van 'n ander bende is.... Ander mense het hulleself probeer verdedig," het hy gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA