Twee dood in vliegongeluk
2009-12-18 16:56
Johannesburg – 'n Vlieginstrukteur en 'n student is dood nadat hul ligte vliegtuig by die Wonderboom-lughawe in Pretoria neergestort het.
“Die vliegtuig het skaars opgestyg toe dit skielik weer neergestort het. Twee mense is op slag dood,” het Console Tleane, woordvoerder van die Tshwane-metroraad se departement van gemeenskapsveiligheid in ‘n verklaring gesê.
Die vliegtuig het aan een van die opleidingskole by die lughawe behoort.
Die ongeluk het net voor 16:00 Vrydagmiddag gebeur. Die vliegtuig het glo teen 'n rivier se konkreet muur, in 'n natuurreservaat langs die R101 vasgevlieg.
Polisieduikers het die twee liggame verwyder. Hul identiteite kon nog nie bekend gemaak word nie.
Die burgerlike lugvaart-owerheid se ondersoekspan was op die toneel besig.
- Sapa